
Dis warm!
Waar ek op die plaas gewerk het, waar die kampterrein is, kan dit baie warm word. Die ouens wat in Rawsonville bly sal weet.
Dis Vrydag!
Dis die dag wat die naweek begin. Die kampers kom 2uur – halsstarriges al 9uur…..
Vrydae is uitgesit vir krisisbestuur, soos die Ysters by Wolvenberg en Stille Waters Kampterrein teen hierdie tyd al ingeoefen is. Net soos hoe dit gaan wanneer ‘n mens net mooi alles gepak het en almal in die kar het (Ons het peuters….Sug…), dan bars ‘n geiser MOS!?
Vrydae is Krisisbestuur dag. Dit is wanneer ons die terreine vlugtig “double check”, veral wanneer die wind só waai soos hy kan waai. En hy KAN waai as hy wil…..!
Ons jaag ‘n bietjie, want die terreine is groot. Die baddens vat lank om uit te tap, skoon te maak en weer vol te maak. En dan…!
Stille Waters nommer 6 het nog ‘n swembad ook. Die ding is nuut ingesit en aanmekaar geflans…. En die ding is nog leeg….
Daar is nog net 1 ander badjie wat saam met die swembad moet intap. Stille Waters se waterbron is ‘n boorgat so ietwat duskant Stille Waters by die klipkoppie….. ‘n Hooflyn loop vanaf die boorgat, tot by ‘n vertakking sisteem, wat destyds met ‘n verskoning van ‘n stopkraan beheer is…. Van die stopkraan af… tot by die ry “kampplekke” is daar ‘n enkel voerpyp teen die wal op en dan vertak dit na die 6 Stille Waters staanplekke toe….
Stille Waters kan tot en met 230 mense “akkommodeer”. Almal moet stort… (Die geisers is ‘n poespas! Later oor dit….) Met ander woorde…. Daar is NET een waterlyn na die kampplekke toe…. (Na hierdie dag is ek ingelig dat daar nog ‘n manier is om water by die kampplekke uit te kry – Dankie)
Wat moet ons toe maak?
Die badjie?
Of
Die swembad?

Waar sal die halsstarriges arriveer….? Staanplek nommer 4… Die een waar die ander badjie nog intap…..
Dis 11uur…
Die badjie loop nog…. Die laaste hout moet met die Mahindra bakkie afgelaai word by staanplekke waar gaste laat uit is….. 1000 stukke…. – Hulle moet bakkies by die Botha’s gaan toets en kyk of die goed hou…. Hulle speel nie met daai goed nie… Hulle werk!…. Hard… (Storie vir ‘n ander dag…) Bakkies vat pakslae.
Dis warm!
‘n 1000 stukke laai nie vinnig nie…. Jacquin en Wesley gaan solank die hout laai sodat hulle 12uur kan aflaai sodat dit daar is wanneer die gaste opdaag…. Ek het die vorige dag gehelp om hout op- en af te laai. Ek voel al klaar, van die vorige dag, hoe die spasma vlak sit in my boud…. Ek moes destyds swaar slotte optel in die lynstaan en ek was maar ‘n skrale, dog formidabele 7 flank. Ek trek egter vinnig ‘n spasma wanneer ek te skielike bewegings moet maak…..
Ek paai die halsstarriges wat natuurlik ontevrede is dat dit so warm is en dat die seisoenale rivier klipdroog is. Die bad is nog onder halfpad en behoort oor ‘n drie-kwart-uur vol te wees.
Ek verduidelik vir die gaste oor die watersituasie en wys vir hulle waar om die voerkraan toe te draai – gefrustreerd is ek weer oppad.
Ek radio die manne om te hoor waar hulle so lank draai…. Dis al 12uur en hulle behoort al die Mahindra gelaai te hê met die 1000 Black Wattle stukke…. Hulle antwoord nie dadelik nie en ek neem aan hulle is amper klaar en die radio is seker in die Mahindra.
Dis warm!

Ek ry gou ‘n draai by die klipkoppie se pomp om.
Loadshedding en boorgatpompe sit nie onder 1 lig nie…
Ons maak maar ‘n punt daarvan om voor en na loadshedding by die pompe om te gaan.
Eskom se Push sê 12uur…
“Die vrouens is nog uitgesort. Hulle is by die Cabin besig”, dink ek by myself. (Storie vir ‘n ander dag…)
Die pomp loop nog, ek neem aan die krag sal binnekort afskop….
Stille Waters het darem ‘n 10 000L opgaartenk nuut by… Dit het ‘n addisionele pomp om drukking aan te vul wanneer die waterdruk te laag val. Hy is ongelukkig ook van Eskom afhanklik.
Dis warm!
Die pyp wat uit die boorgat kom vanaf die pomp staan soos ‘n vierkantige U-vorm bo die grond uit, om-en-by 1,2m hoog. In die middel van die dwars-pyp is ‘n kraantjie en ‘n air-valve.
Dis 1uur. Nog ‘n paar halsstarriges is oppad in… Stille Waters 4.
Ek het net die air valve klaar gecheck…
Soos ek omdraai… sien ek hoe hy rys…

Geel!
Sy kopkap trek styf.
Hy maak sy kapel oop…
Kaapse Kobra !
Hy lyk KWAAD!?
As HY my pik, kan ek maar ‘n bossie gaan soek…Ek wil nie in die son vrek nie…..
Hy’t seker in die “stuk charcoal” van ‘n tyre, wat so ent weg is, gelê….
Ek…. is vas.
Die blou dwars-pyp met die air valve druk teen my lae rug vas soos ek terugsteier…
Ek sal moet buk….
Ek’s nie meer so katvoet as toe ek 30 was nie….
Nou moet ek buk….
Dis warm!
Dee! ….. Dee!
…. Kom in! …..
…. Het jy my gesoek! ….?
Ek vries!
Hy skrik ook!
Hy staan al hoër….
Die geel word groter om sy kop….
“Buk!”, skree my vlug-hormoon.
Ek moet terug!
Die pyp voel wankelrig soos ek terugtree met my linker voet.
Ek beweeg so stadig as wat my logge lyf my toelaat….
“Hulle kan nie mooi sien nie”, sê slangkenners. Ek moet dus net nie te vinnig beweeg nie.
Ek check hom en hy check my…
…. Hy sisssss….
Ek buk……
DAAR GAT HY!

My RUG!
Die pyn skiet van boud tot blad…
Ek gee mee en ek spartel op die grond om die skietpyn te kalmeer….
My rug…. Die slang…. My RUG…. die slang… Kreun!
Toe ek uiteindelik my nek weer kon draai om te sien of ek ‘n bossie moet gaan soek… Weg is die kobra …
So vinnig as wat hy my verras het, is hy weg.
Dis WARM!
Dis kwart voor 2…. My foon lui in die bakkie…
Bukkend-kreunend skoffel ek bakkie toe oor die dik sand.
Die hout is nog nie afgelaai nie… die swembad is nog leeg… die halsstarriges kla oor vlieë….
Waar is die manne met die hout?
Hulle moes eers die vrouens by die Cabin gaan haal het om waskamer toe te neem. Lang storie kort – hulle het skaars begin…. Om nou soos ‘n pakkie krekkers af te gaan gaan net nog meer tyd mors. Ek sal later hoor wat die hele storie is.
Dis warm!
Die krag is af….
Die swembad is nog dolleeg, maar dit moet nou wag…. Stille Waters 6 het ‘n kleiner badjie ook en dit is vol. Wanneer die krag weer 14:00 aankom kan ons die swembad volmaak. Dit gaan lank vat, maar die gaste moet maar verstaan.
Soos ek aangery kom na die houthoop toe, sien ek die manne is al halfpad gelaai en hulle het so twee plaasmanne wat ook by is. Dit help baie… “Hulle sal regkom”, dink ek en ry Vishuis se pad om na Stille Waters toe om te gaan “gat lek” by die halsstarriges. Soos ek aan die eerlikheidwinkeltjie se kant verby Stille Waters ry, sien ek dat Stille Waters 6 se mense al ingekom het.
Ek het 10 minute nodig…. Ek haal diep asem en verwerk net gou alles.
Die hitte gloei van die klippe af in die droë rivierloop van die Waterkloof Rivier. Daai dag….was nie die dag wat my streep getrek is nie….
My rug, maar nie my streep nie…
